Tweede Angolees in ''''n week vas oor dwelms
- Dec 16, 2016
- 1 min read

'n Angolese man is Maandag omstreeks 18:00 by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako met kokaïen ter waarde van N$423 500 gevang. Dit is die tweede keer in 'n week wat 'n Angolese man met dié soort dwelms in sy besit by 'n grenspos in hegtenis geneem is.
Volgens 'n woordvoerder van die Namibiese polisie, hoofinsp. Kauna Shikwambi, het die 41-jarige vermeende dwelmmuil vanaf Sao Paolo in Brasilië via Suid-Afrika na Namibië gevlieg en was sy eindbestemming Angola.
Die verdagte verskyn vandag in die Windhoekse landdroshof nadat 'n tolk eers vir hom gevind moes word.
In 'n ander geval is 'n Angolese man, mnr. Mutuza Kandolo Pedro, verlede Donderdag by die Oshikango-grenspos tussen Namibië en Angola met kokaïen ter waarde van N$784 000 betrap. Hy het net deur die grenspos by Oshikango geloop toe die kokaïen wat in foelie en plastiek toegedraai en met 'n verband om sy lyf gedraai was, by hom gevind is. Volgens die polisie is Pedro 'n ou kalant wat 'n week vroeër 'n boete van N$10 000 betaal het nadat onwettige sigarette in sy besit gevind is.

























Comments