Brande teister Mondesa
- Jul 15, 2016
- 1 min read

Dosyne plakkershuisies in die Mondesa-woonbuurt op Swakopmund is Woensdagaand deur ’n brand verwoes. Een persoon het ligte beserings opgedoen terwyl ’n tweede persoon steeds in die staatshospitaal op Swakopmund is nadat hy deur ’n dak geval het. Volgens die brandweerhoof, mnr. Adri Goosen, het die man op sy huis se dak gestaan en die vlamme met ’n tuinslang probeer blus. Altesaam 19 plakkershuisies is verswelg deur die brand wat om 22:00 uitgebreek het. Groter skade is deur die brandweerspan afgeweer wat binne ’n halfuur die vlamme geblus het. Volgens Goosen was die drie brandweermanne en vier vrywilligers nog tot 02:00 besig om die kole te demp. Dít is die vierde brand wat oor die afgelope week op Swakopmund uitgebreek het. Drie plakkershuisies het gisteroggend ook in die DRC-woonbuurt afgebrand terwyl nóg 15 plakkershuisies verlede week in dié woonbuurte vernietig is.

























Comments