Taxi's ruk op in hoofstad
- Jun 15, 2016
- 1 min read

Die Namibiese Vervoer- en Taxi-vakbond (NTTU) het gister in Windhoek betoog. 'n Optog is van Eveline Court in Greenwell Mutongo gelei tot by die ministerie van werke en vervoer om hul besware oor hoë verkeersboetes en ? tekort aan taxi-oplaaipunte te opper. Volgens die NTTU-president, mnr. Werner Januarie, was die optog suksesvol, ten spyte van die beperkinge wat deur die Namibiese polisie gestel is op die getal vakbondlede wat daaraan kon deelneem. Net 30 is toegelaat om tot by die ministerie te ry terwyl die res van meer as 200 taxibestuurders by die vergaderplek in Donkerhoek gewag het. Die polisie het die betogers begelei tot by die ministerie waar hulle met die adjunkdirekteur van vervoerbeleid en gehaltebeheer, mnr. Damien Mabengano, gepraat het. Mabengano het weer saam met hulle Donkerhoek toe gegaan om met die res van die lede te gesels, ook onder polisiebegeleiding. Volgens Januarie het Mabengano hul ingelig oor die bekendstelling van nuwe vervoerregulasies wat op 21 Julie sal plaasvind. Die taxibestuurders het regverdigheidshalwe ingestem om tot dan te wag en die regering se plan te hoor voordat hulle enige verdere stappe doen, sê Januarie.

























Comments