Toepassing van beurtwater in die pyplyn
- Jan 19, 2016
- 1 min read

Alle oë is nou op ’n vergadering einde Januarie tussen NamWater en die Windhoek-munisipaliteit oor die waterkrisis en die moontlikheid van “’n nóg ernstiger benadering” ten opsigte van besparing.
“Hoewel Desember ’n goeie besparingsmaand was, sal ons moet kyk na die inkorting van waterlewering aan hoë verbruikers. Maatreëls sal beter gehoorsaam moet word,” het mnr. Mnr. Willem Venter, hoof van beplanning en waterbronbestuur by NamWater, die naweek in die program Landboumikrofoon op die Afrikaanse radiodiens gesê.
Met geen invloei tot nou toe in die damme wat water aan Windhoek en ander dorpe in sentraal-Namibië voorsien nie, bly die waternood ondanks goeie besparings in Desember uiters kritiek, sê hy.
Tans is die watervoorraad sodanig dat die sentrale gebied teen Augustus net 30% van die water vir daaglikse verbruik sal hê van dít wat tans beskikbaar is.
Dit beteken verbruikers moet méér as die voorgeskrewe 15% spaar om die Augustus-datum tot die volgende reënseisoen te rek, sê Venter.
As inwoners, besighede, die staatsdiens en nywerhede nie verbruik drasties inkort nie, sal beurtwater desnoods toegepas moet word.

























Comments